06 March 2009

Hoe word Tipe 2 Diabetes gediagnoseer?

Wanneer van die simptome voorkom is dit belangrik dat 'n diagnose gedoen word. By Tipe 2 diabete is die simptome egter baie keer lig en daarom moet mense gereeld hulle bloed toets deur middel van 'n gewone vingerpriktoets sommer by die apteek.

Dit is belangrik dat 'n mediese dokter die siekte reg diagnoseer aangesien dit 'n lewenslange invloed op 'n persoon het.

Die een simptoom wat alle diabete in gemeen het hoë bloedsuiker. Dit is gewoonlik ook die eerste wat getoets word.

Vingepriktoets

Die vingerprik toets is die toets waar die vinger met 'n skerp naald ('n lanset) geprik word, die druppeltjie bloed word dan op 'n strokie, wat in 'n glukometer gedruk is, geplaas en die meter gee 'n telling in millimol/liter (in Suid-Afrika)

Indien die vingerprik toets hoog is vir ten minste 2 toetse, is verdere toetse nodig.

'n Bloedsuikervlak van bo 7 mmol/l dui op 'n moonltikheid van diabetes en moet verdere toeste gedoen  word.

Twee ure nadat geëet is (Post-prandiaal) is die optimale vingerprik 4mmol tot 8 mmol, 8mmol tot 10mmol is aanvaarbaar (maar kan dui op pre-diabetes), en bo 10 mmol vereis verdere aksie.


Bloedplasmatoets

Gewoonlik word dit gedoen wanneer die pasiënt vastend is - m.a.w -geen kos of vloeistof inname vir 8 ure nie. Bloed word getrek en na 'n laboratorium verwys. Die vloeibare gedeelte van die bloed word gebruik om die glukose in die bloed te toets.

Tellings onder 5.5 mmmol/l word as normaal beskou. Tellings van hoër as 6.9 mmmol/l word as riskant beskou en die dokter sal gewoonlik die toets op 'n 2 dag herhaal. Indien dit weer hoër is as 6.9 mmol/l word diabetes gediagnoseer. Tellings tussen 5.5 mmol/l en 6.9 mmol/l word ook as riskant beskou en die dokter kan verdere toetse aanvra soos die glukose toleransie toets (GTT). Dit kan ook dui op pre-diabetes.

Glukose Toleransie Toets
Die toets meet die liggaam se vermoë om suiker (koolhidrate) te hanteer. Die toets word by die laboratorium self gedoen. Dit word ook vastend gedoen – m.a.w. niks per mond vir ten minste 8 ure nie (water word wel toegelaat). Dit word in die oggend gedoen. Die patient word ook gewoonlik versoek om ‘n week voor die toets minder koolhidrate in te neem om ‘n vals positiewe toets te vermy. Dit word gewoonlik ook nie gedurende ‘n siekte tyd gedoen nie aangesien bloedsuikervlakke deur siekte beïnvloed word.
By die laboratorium word die pasiënt ‘n glas van ongeveer 75-100mg glukose opgelos in 250-300ml water gegee om te drink (1,75g per kg liggaamsgewig), nadat eers ‘n vastende bloedplasmatoets gedoen is. Daarna word bloed elke halfuur getrek vir 2 tot 3 ure en bloedplasmaglukose word gemeet:
Die resultate kan as volg geïnterpreteer word:
Normaal: Vastend: 6.1mmol/l 2 ure: Minder as 7.8

Belemmerde vastende glukose: Vastend: ≥6.1 en minder as 7.0mmol/l 2 ure: minder as 7.8 mmol/l
Belemmerde glukose tolleransie: Vastend: Minder as 7.0 2 ure: ≥7.8 mmol/l
Diabetes: Vastend: ≥7.0 mmol 2 ure: ≥ 11.1 mmol (die toets word gewoonlik herhaal om diagnose te bevestig)

HbA1c

Hemoglobien A1c is ‘n toets om die gemiddelde plasma glukose konsentrasie te meet oor ‘n periode van 2 tot 3 maande. Dit word uitgedruk in terme van ‘n persentasie of mmol/mol. Byvoorbeeld: Indien die pasiënt ‘n HbA1c telling kry van 6.9% beteken dit dat sy gemiddelde bloedsuiker ongeveer 9.2mmol/l is oor ‘n tydperk van ongeveer 12 weke. ‘n Volledige omsetting van A1c tellings kan hier gekry word.
Dit is uiteraard belangrik dat die telling onder 6.2% gehou word. Tellings onder 8% is aanvaarbaar en tellings wat hoër is as 9% verhoog kanse vir diabetiese komplikasies.

Verdere toetse
Die dokter kan moontlik verdere toetse aanvra/doen onder andere die volgende:
  • Hy sal kyk na die pasient se LMI (Liggaams Massa Indeks) Dit dui op die verhouding van ‘n persoon se lengte en sy gewig. Die formule om dit te bereken is:
BMI = Gewig(kg) / Lengte²(m²)
Normale kategorie = 18,5 tot 25
  • Bloeddruk: Die doelwit is ‘n sistoliese bloeddruk van minder as 130mmHg en ‘n diastoliese bloeddruk van minder as 80mmHg.
  • Lipiede (Bloedvette): Doelwit is: Totale Cholestrol: minder as 5.0mmol/l; LDL minder en gelyk aan 3.0; HDL meer as 1.2 mmol/l; Triglisiriedes minder as 1.2mmol/l.
  • Uriene Suikertoets: Dit is 'n stokkie wat binne in die urine gedoop word. Die toets meet suiker teenwoordig in die uriene wat dui op diabetes.
  • Uriene Ketonetoets: Die toets is ook 'n stokkie-toetse en meet of daar ketone teenwoordig is in die uriene. Ketone onstaan wanneer die liggaam homself begin afbreek omdat hy "honger lei" (sien bespreking by spysvertering en Tipe 1 diabetes).
  • C-peptiede toets - Dit is 'n bloedtoets en meet indirek hoeveel insulien die pankreas vervaardig 
  • Insulienvlak Bloedtoets: Dit is ook 'n bloedtoets en meet die hoeveelheid insulien teenwoordig in die bloed. Hoë tellings  dui op insulienweerstandigheid en moontlike Tipe 2 diabetes.
  • Lewerfunksie toets: Tipe 2 diabetes toon groter lewerfunksieafwykings as individue wat dit nie het nie. Dit word soms gebruik as 'n hulpmiddel by die tipe behandeling wat 'n dokter kan voorskryf vir tipe 2 diabete. 

01 March 2009

Diabetes: Wat is die simptome?

Tipe 2 diabetes kan en gaan wel soms ongediagnoseerd omdat dit lyk of die simptome skadeloos is en soms normaal voorkom. Daarom is dit belangrik dat almal wat 'n familiegeskiedenis van diabetes het om gereeld hulle bloedsuiker te laat toets. Simptome van Tipe 1 en 2 diabetes kan subtiel wees en alle simptome kom ook nie noodwendig gelyk voor nie.

Ek kan nie meer beklemtoon dat bloedsuiker gereeld getoets moet word nie. Selfs by kinders. 'n Eenvoudige vingerprik toets is in baie gevalle reeds genoeg om diabetes te diagnoseer.

Alhoewel sekere simptome van tipe 1 en tipe 2 diabetes wel ooreenkom is daar ook sekere verskille:

Aanvangsouderdom: Tipe 1 diabetes word meer algemeen by kinders gediagnoseer.  (Outoimmuniteit diabetes- tipe 1) word soms by volwassenes ontwikkel en word LADA diabetes genoem en soms word kinders wat 'n tipe diabetes ontwikkel MODY diabetes genoem).


Liggaamsgewig: Tipe 1 diabeet is gewoonlik maer en van normale gewig terwyl die oorgrote meerderheid (ongeveer 80%) tipe 2 diabete oorgewig is. Oorgewig is 'n simptoom van Tipe 2 diabetes nie die oorsaak nie.

Vlak van glukose: Hoë is 'n simptoom by beide Tipe 1 en 2 diabetes. Tipe 1 diabeet se glukose vlakke is gewoonlik baie hoër by aanvang as tipe 2 diabete. Tipe 1 diabete kan met aanvang bloedsuikers van meer as 16mmol/l hê, terwyl tipe 2 diabetes bloedsuikers van 11 – 14 mmol/l het.

Ernstigheid van aanvang: Tipe 1 diabetes het skielike ernstige en dramatiese aanvang, terwyl tipe 2 diabete gelykdelik simptome van diabetes toon. Tipe 2 diabeet kan vir jare 'n diabeet wees sonder dat hy/sy dit besef. Dit maak dit gevaarlik omdat dit baie keer eers gediagnoseer word wanneer komplikasies al ingetree het. (Let wel: ek verwys na ernstigheid van aanvang en nie na die ernstigheid per se van tipe 1 vs tipe 2 nie - albei tipe diabetes is gevaarlik)


Simptome by Tipe 1:

Van die simptome van 'n kind kan ervaar is:

Gereelde urinering: Die liggaam stort die oormatige glukose in die niere. Om te voorkom dat urine so dik soos stroop word, onttrek die niere vloeistof vanuit die liggaam om sodoende oormatige suiker uit te skei.
Uitermatige dors: Omdat die niere vloeistof uit die liggaam onttrek begin die liggaam ontwater en word die persoon geweldig dors. Dis nie ongewoon dat 'n persoon tot 5 liter water per dag inneem nie.
Uitermatige honger: As gevolg van insulien tekort kan glukose nie in die selle opgeneem word nie.(sien bespreking van metabolisme). Onthou die brein weet nie die liggaam het diabetes nie, al wat ervaar word is 'n hongerte omdat die selle hongersnood het. Nou begin die bose kringloop. Die persoon eet meer, glukose in bloed styg maar word nie opgeneem nie. Die liggaam ervaar steeds hongesnood. (Die gevolge is ketoasidose).
Ongewone gewigsverlies: Die liggaam begin vette afbreek as gevolg van die "hongersnood" wat hy ervaar. Vetsure vergiftig die liggaam en ketone onstaan wat ook in die urine uitgeskei word. Verlies aan spierweefsel vind ook plaas. Uiteinde is ketoasidose.
Toenemende moegheid: Die liggaam kan nie glukose opneem as energie nie en baie ander chemiese prosesse vind plaas om brandsof vir energie te kry. Dit veroorsaak moegheid.
Geïrriteerdheid: Die brein skakel oor na 'n "noodtoestand" die onbelangrikste aspek vir oorlewing word eerste afgeskakel en dit is die persoon se persoonlikheid. Die gevolg is dat die persoon geirriteerd raak, vinnig emosioneel raak, bakleierig raak, of selfs soos 'n dronk persoon optree.
Wasige sig: Dit word veroorsaak deurdat die glukose inhoud van die lens verskil van die glukose inhoud van die bloed. Die lens bevat geen bloedvate nie (om lig in die oog te laat). Glukose moet moet dus vanuit die omliggende vloeistof na die lens getrek word. Wanneer bloedglukose vinnig verander, verander die lens se glukose nie so vinnig nie. Indien die lens se glukose meer is as die van die bloed trek die lens vloeistof in wat veroorsaak dat die lens swel – dit verander die lens se vorm en veroorsaak tydelike bysiendheid. (Dit het niks te doen met oogkomplikasies wat na jare in die oog kan plaasvind nie.)
Slegte asem: As gevolg van hoë ketone ruik die asem amandelrig en sleg.
Naarheid en Braking: Die simptoom is baie ernstig. Dit beteken dat die kind reeds in 'n fase van ketoasidose inbeweeg waar die liggaam reeds deur ketone vergiftig is. 'n Kwart van alle kinders wat gediagnoseer word, beland in die hospitaal met ketoasidose.
Koma: Dit is 'n ernstig en lewensgevaarlik en vereis onmiddelike mediese aandag. Dokters sal bloedglukose geleidelik afbring in die hospitaal. Indien bloedglukose te vinnig afgebring word kan die brein swel wat tot die dood kan lei.


Simptome by Tipe 2:

Omdat die simptome nie skielik voorkom nie en nie altyd so sigbaar is nie word tipe 2 diabeet ongelukkig baie keer eers gediagnoseer wanneer komplikasies reeds begin begin het. Dit is dus belangrik om gereelde bloedsuiker toetse te laat doen. Dis belangrik om te onthou dat diabetes altyd ernstig is. Daar is nie grade van ernstigheid van diabetes nie.

Wasige sig: Soos bo beskryf
Snye en sere wat nie genees nie, mondsere, geswelde tandvleise en los tande en urienweg infeksies: Witbloedselle wat help met genesing van die liggaam funksioneer nie goed in hoë glukose omgewing nie en ongelukkig floreer bakterië wat infeksies veroorsaak in hoë glukose omgewing. Die liggaam is dus meer vatbaar vir infeksies.
Jeukerige vel en genitalië en gis infeksies (vaginale infeksies veral by die vrou): Gis (yeast) infeksies, ook genoem sproei floreer ook is hoë glukose omgewing, dit veroorsaak 'n gejeuk en ongemak.
Toenemende dors, droeë mond en toenemende behoefte aan urinering: Soos bo beskryf. Hier onstaan nie altyd ketoasidose nie maar 'n wat genoem word.
Pyne en lamheid in die bene en voete: Dit is 'n algemene newe effek van diabetes, ook genoem neuropatie wanneer senueindpunte beskadig is. Dit is weereens een van die simptome wat 'n teken is dat die persoon al reeds die toestand al baie lankal onder lede het.
Hartprobleme en hipertensie: Persone met tipe 2 diabetes is meer vatbaar vir hartprobleme as mense wat nie diabetes het nie.
Oorgewig en gewigsverlies: Indien die persoon oorgewig is, is die geneigdheid vir tipe 2 diabetes groter as wanneer iemand regte gewig handhaaf. (Oorgewig kan 'n simptoom wees van tipe 2 diabetes en nie noodwendig 'n oorsaak nie). Verder is skielike gewigsverlies (sonder 'n spesifieke dieet om gewig te verloor) ook 'n simptoom.

Donker vlekke op die vel: Veral in die nek voue en arm voue.