29 November 2015

Hoe word Tipe 1 diabetes gediagnoseer?

'n  Eenvoudige vingerpriktoets is soms al wat nodig is en kan die verskil maak tussen lewe en dood.  Soveel keer is dit die laaste ding wat 'n dokter doen en dis amper die eenvoudigste om te doen. Dis is veral nodig wanneer dit lyk of die kind 'n maagaandoening het en baie opgooi, aangesien dit tekens is van ketoasidose.

'n Verhoogde bloedsuikervlak dui reeds op diabetes.  Daar is egter 'n paar toetse wat gedoen kan word om te bepaal of 'n persoon reeds diabetes ontwikkel het asook om te bepaal of 'n persoon diabetes gaan ontwikkel. Die probleem by die laasgenoemde is egter dat daar nie bepaal kan word wanneer diabetes te volle gaan ontwikkel nie.

Vingeprik toets:

Die vingerprik toets is die toets waar die vinger met 'n skerp naald ('n lanset) geprik word, die druppeltjie bloed word dan op 'n strokie, wat in 'n glukometer gedruk is, geplaas en die meter gee 'n telling in millimol/liter (in Suid-Afrika)

Wat moet die telling wees?

Vastende bloedsuiker (nadat daar vir ten minste 8 ure nie koolhidrate ingeneem is nie - soos in die oggend) moet verkieslik tussen 4 mmol/l en 6.1 mmol/l wees; tussen 6.1 mmol/l en 8 mmol/l is aanvaarbaar en bo 7 mmol/l moet verdere toetse gedoen word.

Twee ure nadat geëet is (Post-prandiaal) is die optimale vingerprik 4mmol tot 8 mmol, 8mmol tot 10mmol is aanvaarbaar (maar kan dui op pre-diabetes), en bo 10 mmol vereis verdere aksie.

Die dokter sal dan hiermee saam ook kyk vir ketone. Dit kan sommer gedoen word deur die urine met 'n urienstokkie te toets..

Hierdie is die maklikse en eenvoudigste manier om te bepaal of die persoon diabetes het.

HbA1c

Hemoglobien A1c is ‘n toets om die gemiddelde plasma glukose konsentrasie te meet oor ‘n periode van 2 tot 3 maande. Dit word uitgedruk in terme van ‘n persentasie of in terme van mmol/mol Byvoorbeeld: Indien die pasiënt ‘n HbA1c telling kry van 6.9% beteken dit dat sy gemiddelde bloedsuiker ongeveer 9.2mmol/l is oor ‘n tydperk van ongeveer 12 weke. ‘n Volledige omsetting van A1c tellings kan hier gekry word.

Die toets word gewoonlik elke 3 maande herhaal na diagnose om te bepaal of bloedsuiker onder beheer is.

Dit is uiteraard belangrik dat die telling onder 6.2% gehou word. Tellings onder 8% is aanvaarbaar en tellings wat hoër is as 9% verhoog kanse vir diabetiese komplikasies.

Verdere toetse

Verdere laboratorium toetse kan gedoen word om Tipe 1 diabetes te diagnoseer.  Die merkers vir T1D sluit in:
Autoteenliggame vir pankreasselle; autoteenliggame vir insulien; autoteenliggame vir GAD  (glutamic acid decarboxylase) en en autoteenliggame vir tirosiene fosfatase IA-2 en IA-2β. Slegs 1 van die merkers is nodig om 'n diagnose te maak.  'n C-peptiede  toets  word dan ook gedoen. 'n Lae telling dui daarop dat die liggaam nie genoeg insulien vervaardig nie.

'n Persoon kan dalk die merkers hê maar nog geen simptome van Tipe 1 diabetes toon nie. Dit beteken dat die betaselle nog nie vernietig is nie. Dit bepaal egter nie wanneer die selle vernietig gaan word nie en wanneer die persoon simptome gaan begin ontwikkel nie.

Die vernietiging van betaselle kan enige tyd plaasvind. Dit kan ook langer neem (by volwassenes) of vinnig gebeur (by kinders).