31 January 2009

Inleiding: Diabetes en Ons

Dit was met gemengde gevoelens dat ons die pad vat Pretoria toe net nadat ons uitgevind het JH het Tipe 1 diabetes. Min het ons geweet wat nog vir ons voorlê en ons het gou uitgevind dat die pad wat ons loop maar 'n alleen pad is en dat min mense weet wat diabetes is. Daarmee saam is daar ook geweldig baie mites oor diabetes. Dit is ongelooflik om te hoor wat mense kwyt raak.

Ek het begin bekommerd raak oor Jan-Hendrik so baie water drink en op 6 jarige ouderdom skielik weer sy bed nat begin maak het – en nie net een keer per nag nie. Boonop was dit winter en die beddegoed wou net nie droog word nie. Ek het begin ongeduldig raak en geraas wanneer hy so baie water 
in die nag drink omdat ek nie wou hê hy moet weer 'n glips hê nie. Teen Woensdag die 8ste Mei 2002 het ek aan my man die moontlikheid van diabetes genoem en dit net omdat ek erensvan die simptome gehoor het.

Vrydag-oggend, 10 Mei 2002, het ek hom aangesê om niks te eet nie . Ek wou hom apteek toe gaan vat vir 'n glukose toets. Om een of ander rede besluit ek om eerder dokter toe te ry. Daar gekom, vind ons sy bloedsuiker is in die omgewing van 15 mmol en het hy ketone van 4+ (getoets met 'n uriene stokkie). Die dokter het 'n dokter in Kimberley geskakel vind ons uit dat JH ongeveer 'n week in die hospitaal sal moet bly. Daar en dan besluit ek Kimberley is uit. Die besluit was ook na aanleidning van 'n vorige slegte ervaring daar. Ek neem die inisiatief en bel 'n vorige pediater in Pretoria. Die ontvangsdame lig my in dat hulle al hulle diabete na 'n spesifieke pediatriese endokrinoloog in Pretoria verwys. Dié dokter deel my mee dat ons dadelik moet deurkom. Hulle sal vir ons wag, aangesien dit toe reeds ongeveer 10/11 uur is, 'n Vrydag en etlike ure (4-5) se ry soontoe.

Op pad koop Phanus vir ons koeldrank en uit onkunde sê ek dat hy asseblief nie iets moet koop met suiker nie. Hy moet maar vir JH 'n lemoensap koop. Ek besef natuurlik later hoe onkundig ek was en dat lemoensap propvol koolhidrate en suiker is!

In Pretoria aangekom is sy bed in die hospitaal klaar gereed en ook alles wat met die behandeling gepaard gaan. Sy suiker word getoets. Dis in die omgewing van 27mmol (natuurlik die lemoensap!). Skielik is ons in 'n wêreld van toets en spuit en 'n magdom inligting om te leer. Nooit het ek gedink ek sal dit in my hê om iemand in te spuit nie. Min het ek besef hoe baie ek nog gaan leer en dat ek nog steeds op hierdie dag - 14 jaar later - steeds navorsing doen, mense ondersteun en inligting versamel. Die eerste ongeveer ses maande het ek tot 8 ure per dag navorsing gedoen en geleer wat ek kon. Dis 'n geweldige leerkurwe.

Ek het besef indien ek in beheer wil wees van die kondisie en my kind se lewe in my hande is 24/7, moet ek leer wat ek kan. Ons bly ver van spesialiste en ek kon nie met elke probleem in die kar spring en Gauteng of Bloemfontein toe ry nie. Ek het vinnig geleer van bloedsuikers, bolusse, basale en ketone. Skielik het ek geweet al daardie voedselkennis wat ek reeds gehad het nie onnodig was nie, want dis koolhidrate tel en weet wat die invloed op JH se liggaam is. Ek is egter spyt ek het nie toe geweet dat 'n lae koolhidrate leefstyl (van minder as 30g per dag) die beste behandeling vir diabetes is nie.  Ons is aangesê dat hy kan eet wat hy wil en dat hy net hoef in te spuit vir die koolhidrate. So voer ons jare lank 'n stryd met skommelende bloedsuiker, wat vermy kon word.

Die eerste ruk was die moeilikste in my lewe. Deels, omdat ons nou met iets onbekends te doen het en andersyds, omdat dit my kind, my enigste seun is, wat daaronder ly. Nie 'n dag gaan verby wat hy nie sleg gevoel het met óf 'n hoë óf 'n lae bloedsuiker nie. Gepaardgaande hiermee is die persoonlikheidsveranderings en emosionele uitbarstings wat plaasvind as gevolg van bloedsuiker skommelinge.

Aanvanklik was JH op 'n gemengde insulien van kort en langwerkende insulien (Protophane) wat hy 2 keer per dag gekry het en 'n kortwerkende insulien (acraphane) vir etes wat later vervang is met actrapid. Daarna het hy 'n langwerkende insulien (Lantus) 1 keer per dag in die aand op dieselfde tyd gekry (basale insulien) en 'n snelwerkende insulien (Novorapid) om sy etes te dek (bolus insulien). Sedert 22 September 2007 het ons JH op die insulienpomp gesit wat elke 3 minute insulien aan die liggaam verskaf en dan word bolusse gegee om etes te dek.


Dis elke dag 'n kwessie van 'n stryd om balans. Kos, oefening, groeifases in die liggaam, seisoene, stres beïnvloed alles bloedsuiker. Maar met die krag van Bo hanteer ons elke dag soos hy kom.....

No comments:

Post a Comment