31 January 2009

Spysvertering, metabolisme en insulien

Diabetes is 'n metaboliese versteuring en is dit daarom belangrik om die basiese spysverteringsproses te verstaan. (Met spesifieke verwysing na suiker en koolhidrate). My beskrywing hier is baie vereenvoudig. 'n Mediese dokter sal dit in meer detail uiteen kan sit.

Wanneer mens eet word voedsel gekou en die eerste meganiese fase van spysvertering vind plaas. Dit beweeg dan af na die maag waar 'n gemaal saam met ensieme, sure en soute die voedsel verder afbreek.
Die voedsel moet tot kleiner molekules afgebreek word voordat dit uit die spysverteringskanaal in die bloedstroom geabsorbeer kan word.

Soos die produkte van die spysvertering deur die dunderm afbeweeg, word dit deur die dun binnewand in bloed- of limfvate geabsorbeer.

Onverteerbare voedsel (wat hoofsaaklik vesel is) en water bereik dan die dikderm. Die onverteerde voedsel word in die dikderm tot ’n soliede massa omgevorm deurdat water weer deur die liggaam herabsorbeer word. Die grootste volume water word uit die dikderm geabsorbeer, die res word in die fases deur die rektum en dan by die liggaam uitgeskei.

Ons dieet bestaan uit drie makro elemente, nl proteiene, vette en koolhidrate.

Proteïene (wat onder andere in bees- en skaapvleis, vis en hoender voorkom, ook in eiers, kaas en ander melkprodukte) word deur ensieme van die maag, die pankreas en die dunderm afgebreek tot polipeptiede, peptiede en aminosure. Proteïene het ons in die laerskool al geleer help met die bou en herstel van weefsels.  Proteine kan ook in afwesigheid van koolhidrate omgesit word in glukose.

Die afbreek van koolhidrate (alle stysels soos ertappels, rys, pastas en brood en suikers soos gewone rietsuiker, lekkers, vrugte, groente, melkprodukte ens) tot maltose begin reeds in die mond deur amilase, ’n ensiem in speeksel.

Uiteindelik word koolhidrate in die dunderm met behulp van sukrase, maltase en laktase in pankreassap in drie eenvoudige suikers, naamlik glukose, fruktose en galaktose, omgesit.

Glukose, fruktose en galaktose beweeg na die lewer waar fruktose en galaktose omgesit word in glukose. Die meeste glukose word in die lewer gestoor in die vorm van glukogeen wat later deur die liggaam gebruik om glukose in die bloed te verhoog indien dit benodig word tussen etes, in die nag of wanneer sport beoefen word.

Die lewer gebruik glukagon (wat deur die pankreas vrygestel word) om die  gestoorde glukogeen om te sit in glukose. Die brein kry sy "glukose" slegs vanaf die lewer.  Die res van die glukose beland nou in die bloed waar dit vervoer word na sekere selle wat dit gebruik vir energie of gestoor word as vet.

Net die lewer kan glukose in die bloed kan vrylaat. Glukogeen wat in die spiere gestoor word kan slegs deur daardie spiere gebruik word en word nie in die bloed vrygestel nie.

Glukagen is ook voldoende net vir 'n sekere tyd indien voedsel nie ingeneem word nie – 24 uur by volwassenes en 12 uur by kinders. Daarna sal die liggaam ander store, vette afbreek om energie te verkry.

Vette (onder andere vleisvette, botter en olies) word deur lipase (pankreas), galsoute en -sure van die lewer (geberg in die galblaas) afgebreek tot gliserol, gliseriede en vetsure. Vetsure word omgesit in ketone in die lewer (ook metaboliese ketone/ketosis) en gliserol verander in glukose. In afwesigheid van hoë bloedsuiker, is die ketone voedingsketone wat onstaan wanneer die liggaam in 'n vetverbrande staat is en nie staatmaak op koolhidrate vir energie nie.
Alle selle (behalwe die breinselle) in die liggaam kan vetsure gebruik as brandstof. Net die spiere, hart, niere en brein kan ketone as brandstof gebruik. In die afwesigheid van koolhidrate kan ketone tot twee derdes van die brein se energie behoeftes voorsien. Die liggaam gebruik dan ketone as energie. By kinders ontwikkel ketone vinniger en kan hoër vlakke bereik as volwassenes. 

Ketosis moet nie verwar word met ketoasidose nie. By diabetes is ketoasidose 'n uiters gevaarlike toestand waar ketone gepaartgaan met hoë bloedsuiker.  Dit veroorsaak suur in die liggaam wat die liggaam baie vinnig afbreek en lewensgevaarlik is.  Ketosis is 'n metaboliese staat waar die liggaam ketone en vet gebruik as energie (lw in afwesigheid van hoë bloedsuiker.) 'n Goeie video hieroor kan hier gevind word.

DIE ROL VAN INSULIEN

Insulien is 'n hormoon wat deur betaselle afgeskei word.

Betaselle lê in die Eilande van Langerhans wat op die pankreas geleë is. Eilande van Langerhans is ongeveer 0.1mm in totaal en bevat ongeveer 200 eenhede insulien. Die totale volume van almal saam is nie groter as 'n vingerpunt nie. (Om te dink dat iets so klein so groot invloed op die liggaam het!)

Insulien word afgeskei wanneer glukose in die bloed teenwoordig is. Ter verduideliking word insulien hier beskryf as 'n sleutel. Insulien "sluit" selle se reseptors oop. Nou kan glukose die selle binnedring om gebruik te word as energie. Verder stimuleer insulien ook die lewer om glukose te stoor as glukogeen. Insulien stimuleer ook die vorming van vette van oorblywende glukose wat nie dadelik benodig word nie, en dit stimuleer proteïen samestellings in die liggaam.

Bloedglukose  of bloedsuikervlakke word gemeet in millimol per liter (mmol/l) – in Suid-Afrika – en milligram per desiliter (mg/dl) in sommige ander lande. 1 mmol/l is ongeveer 18,05 mg/dl.

Betaselle het 'n "ingeboude bloedglukose meter" Dit registreer wanneer bloedglukose hoog is en skei dan meer insulien af en hou op insulien afskei wanneer glukose vlakke laer is. 'n Normale persoon, sonder diabetes, se insulienvlakke sal nie meer as 1-2 mmol/l styg na etes nie.

Nie alle selle insulien nodig het om glukose op te neem nie. Hulle neem glukose direk uit die bloed. Die selle word eerste beskadig wanneer verhoogde bloedsuiker vlakke oor 'n lang tydperk ervaar word. Die selle is  breinselle , senuwee eindpunte, retina van die oog, niere, adrenale kliere, asook die in bloedvate veral die kleiner bloedvaatjies.

Daar is sekere tye wanneer daar nie genoeg glukose in die liggaam is nie en dan word die afskeiding van insulien gestop om glukose te bewaar vir die mees belangrikste organe. Die liggaam benodig altyd klein hoeveelhede van inlulien, self gedurende die nag en tussen maaltye om die glukose te akkommodeer wat van die lewer afkomstig is. Dit word basale insulien of agtergrond insulien genoem. Groter hoeveelhede insulien wat benodig word tydens etes word bolus insulien genoem. Die liggaam se behoefte aan insulien verskil van dag tot dag en van een tyd in die dag tot 'n ander tyd asook van een situasie tot 'n ander situasie.

1 comment:

  1. antoinettehuman@gmail.omOctober 8, 2010 at 10:44 AM

    Haai ek is so dankbaar vir hierdie inligting van julle. Ek moet n Powerpoint inligting sessie he vir afrikaans sprekende mense op die 30ste oktober en weet nie waar om te begin nie,
    Kan jy dalk help
    ntoinettehuman@gmail.com

    ReplyDelete