Selle het insulien nodig om glukose op te neem vir energie. Kom ons beskou elke liggaamsel as 'n kamertjie met ’n deur, en die deur is gesluit. Glukose kan nie in die kamer inkom sonder dat die deur oopgesluit word nie. Insulien is die sleutel wat die deur oopsluit. Wanneer mens eet en glukose word in die bloed vrygestel, sê iets vir die betaselle op die pankreas om insulien vry te stel sodat die selle oopgesluit kan word en glukose as energie gebruik word.
By Tipe 2 diabetes is daar fout met die slot - m.a.w insulien word vrygestel maar kan nie die deur oopsluit nie of het 2 sleutels of meer nodig om die deur oop te sluit (insulienweerstandigheid) (Aan die begin moet die liggaam dus meer insulien vrystel vir glukose om opgeneem te word). Tipe 2 diabeet kan dus ook te veel insulien hê.
By tipe 1 Diabeet is daar nie insulien wat die deur kan oopsluit nie. Die betaselle op die pankreas wat insulien moet vrystel is vernietig, daarom word insulien ingespuit deur 'n pen, inspuiting of pompie.
(LW Tipe 1 diabeet gebruik insulien vir oorlewing en Tipe 2 diabeet om bloedglukose te beheer. 'n Tipe 2 word nie 'n Tipe 1 wanneer hy insulien begin gebruik nie)
Wanneer die selle nie glukose vir energie kan opneem nie dink die brein die liggaam en liggaamselle kry honger. Al wat wat die brein ervaar is die selle kry nie kos nie en kan nie energie vervaardig nie. (Al is die glukose hoe hoog in die bloed en die liggaamselle kan dit nie gebruik nie ly die selle "honger"). Hoë glukose is altyd 'n teken van te min insulien. (of in die geval van tipe 2 diabetes oneffektiewe hantering van insulien)
Die lewer stoor bietjie glukose in die vorm van glukogeen. Die eerste ding is die brein doen as hy sien die selle is honger is om vir die pankreas te sê skei glukagon af wat die lewer dan gebruik om glukogeen om te sit in bloedsuiker - die bloedsuiker styg verder, maar die selle is nog steeds honger want daar is steeds nie insulien om die glukose op te neem nie. (Dis interessant om te weet dat die brein sy energie in die vorm van glukose net van die lewer se glukogeen kan kry en nie vanuit die glukose in die bloed nie. Hy kan wel sy energie kry van ketoonliggame. Glukogeen, in normale omstandighede, in die lewer is ook net genoeg vir ongeveer 12 ure (of selfs minder). Glukogeen in die spiere kan slegs gebruik word vir daardie spiere en kan nie in die bloed as glukose vrygestel word nie.)
Nou begin die liggaam liggaamsweefsel en vette afbreek om "kos" te kry. Maar in die proses vorm sure wat ketoonsure genoem word. Dit vergiftig die liggaam. Wanneer baie hoë ketone saam met hoë bloedglukose teenwoordig is vir 'n ruk (soms baie vinnig) kan Ketoasidose (DKA) ontstaan - die persoon/kind word geweldig naar, kry maagkrampe en kan in 'n koma gaan - hospitalisasie is noodsaaklik. Ketoasidose kom gewoonlik net by tipe 1 diabete voor.
Die niere is die "dumping sone" vir alles wat te veel is in die bloed - glukose en ketone. Teen die tyd dat ketone in die urine te bespeur is, is daar reeds langer as 'n uur ketone in die bloed. Daarom is dit gewoonlik beter om die bloed te toets vir ketone.
Let wel dat ketone in die teenwoordigheid van lae/normale bloessuiker gewoonlik nie noodwendig gevaarlik is nie en behoort voedsel saam met insulien dit weg te vat. Persone wat lae koolhidrate dieet volg het dikwels ook ketone. Daar word dan verwys na 'n staat van ketosis. Dis nie gevaarlik nie. Dis ook wanneer die liggaam aangepas is om vet en ketone te gebruik vir energie ipv koolhidrate.
Wanneer naarheid en braking voorkom moet te alle tye eerste vir ketone getoets word. Dit kan met 'n urienstokkie (Ketodiastix/Ketodiabur) of met 'n glukometer vingerprik bloeddruppeltoets (meer betroubaar) getoets word. Moenie net aanneem dat dit 'n maagvirus is nie. Wanneer jy nou vasgestel het bloedglukose en ketone normaal is, kan jy dan oorweeg dat dit 'n maagvirus is en ooreenkomstig behandel. Dit is altyd veiliger om met naarheid en braking hospitalisasie te oorweeg saam met Tipe 1 diabetes. Maak egter seker ketone sowel as glukose vlakke deurentyd getoets word en dat insulien nie verminder word nie. Verhoogde insulien dosisse is gewoonlik nodig.
Indien daar egter ketone teenwoordig is, moet dit onmiddelik behandel word. (Sien siekdag prosedure)
Gewoonlik, wanneer die basale (agtergrond) insulien dosis ( dit is die basaal op die pompie of langwerkende insulien soos Lantus of levimer) reg is, behoort 'n kind nie sommer ketone te kry nie. indien ’n persoon gereeld ketone kry, kan dit beteken dat die basale insulien te min is en moet dit aangepas word. Bespreek dit egter met jou mediese span/dokter voordat enige aanpassings gemaak word.
Ander moontlike oorsake van ketone is (1) siekte – as ’n persoon siek is, kan ketone vinnig ontwikkel en moet daarvoor getoets word. (2) Wanneer vergeet word om te bolus vir voedsel/koolhidrate, het die liggaam baie bloedsuiker en min insulien die gevolg kan ook ketone wees. (3) Wanneer die pomp 'n blokkasie het of om een og ander rede opgehou werk het, ontwikkel ketone baie vinnig (4) 'n Hoe vet lae koolhidrate dieet - dit is voedsel ketose en is nie gevaarlik nie.
14 December 2015
Subscribe to:
Posts (Atom)