Showing posts with label bloedsuiker. Show all posts
Showing posts with label bloedsuiker. Show all posts

29 November 2015

Hoe word Tipe 1 diabetes gediagnoseer?

'n  Eenvoudige vingerpriktoets is soms al wat nodig is en kan die verskil maak tussen lewe en dood.  Soveel keer is dit die laaste ding wat 'n dokter doen en dis amper die eenvoudigste om te doen. Dis is veral nodig wanneer dit lyk of die kind 'n maagaandoening het en baie opgooi, aangesien dit tekens is van ketoasidose.

'n Verhoogde bloedsuikervlak dui reeds op diabetes.  Daar is egter 'n paar toetse wat gedoen kan word om te bepaal of 'n persoon reeds diabetes ontwikkel het asook om te bepaal of 'n persoon diabetes gaan ontwikkel. Die probleem by die laasgenoemde is egter dat daar nie bepaal kan word wanneer diabetes te volle gaan ontwikkel nie.

Vingeprik toets:

Die vingerprik toets is die toets waar die vinger met 'n skerp naald ('n lanset) geprik word, die druppeltjie bloed word dan op 'n strokie, wat in 'n glukometer gedruk is, geplaas en die meter gee 'n telling in millimol/liter (in Suid-Afrika)

Wat moet die telling wees?

Vastende bloedsuiker (nadat daar vir ten minste 8 ure nie koolhidrate ingeneem is nie - soos in die oggend) moet verkieslik tussen 4 mmol/l en 6.1 mmol/l wees; tussen 6.1 mmol/l en 8 mmol/l is aanvaarbaar en bo 7 mmol/l moet verdere toetse gedoen word.

Twee ure nadat geëet is (Post-prandiaal) is die optimale vingerprik 4mmol tot 8 mmol, 8mmol tot 10mmol is aanvaarbaar (maar kan dui op pre-diabetes), en bo 10 mmol vereis verdere aksie.

Die dokter sal dan hiermee saam ook kyk vir ketone. Dit kan sommer gedoen word deur die urine met 'n urienstokkie te toets..

Hierdie is die maklikse en eenvoudigste manier om te bepaal of die persoon diabetes het.

HbA1c

Hemoglobien A1c is ‘n toets om die gemiddelde plasma glukose konsentrasie te meet oor ‘n periode van 2 tot 3 maande. Dit word uitgedruk in terme van ‘n persentasie of in terme van mmol/mol Byvoorbeeld: Indien die pasiënt ‘n HbA1c telling kry van 6.9% beteken dit dat sy gemiddelde bloedsuiker ongeveer 9.2mmol/l is oor ‘n tydperk van ongeveer 12 weke. ‘n Volledige omsetting van A1c tellings kan hier gekry word.

Die toets word gewoonlik elke 3 maande herhaal na diagnose om te bepaal of bloedsuiker onder beheer is.

Dit is uiteraard belangrik dat die telling onder 6.2% gehou word. Tellings onder 8% is aanvaarbaar en tellings wat hoër is as 9% verhoog kanse vir diabetiese komplikasies.

Verdere toetse

Verdere laboratorium toetse kan gedoen word om Tipe 1 diabetes te diagnoseer.  Die merkers vir T1D sluit in:
Autoteenliggame vir pankreasselle; autoteenliggame vir insulien; autoteenliggame vir GAD  (glutamic acid decarboxylase) en en autoteenliggame vir tirosiene fosfatase IA-2 en IA-2β. Slegs 1 van die merkers is nodig om 'n diagnose te maak.  'n C-peptiede  toets  word dan ook gedoen. 'n Lae telling dui daarop dat die liggaam nie genoeg insulien vervaardig nie.

'n Persoon kan dalk die merkers hê maar nog geen simptome van Tipe 1 diabetes toon nie. Dit beteken dat die betaselle nog nie vernietig is nie. Dit bepaal egter nie wanneer die selle vernietig gaan word nie en wanneer die persoon simptome gaan begin ontwikkel nie.

Die vernietiging van betaselle kan enige tyd plaasvind. Dit kan ook langer neem (by volwassenes) of vinnig gebeur (by kinders).  

09 February 2009

Tipe 2 Diabetes

Voorheen bekend as Nie-insulien Afhanklike Diabetes (NIDDM)/ Volwasse Diabetes (Adult onset diabetes)

Ongeveer 90% van alle diabete is Tipe 2 Diabete.

'n Genetiese faktor (defektiewe gene) tesame met ander
risiko faktore kan Tipe 2 diabetes veroorsaak. Risiko faktore wat Tipe 2 diabetes kan veroorsaak is onder andere die volgende:

  • Familiegeskiedenis
  • Ouer as 45 jaar (kanse verhoog met ouderdom)
  • Ras en etniese agtergrond: Latynse groepe; swart mense; Asiërs en inboorlinge van Amerika is meer geneig om Tipe 2 diabetes te ontwikkel
  • Metaboliese Sindroom (Ook genoem Insulien weerstandigheidsindroom en Sindroom X)
  • Oorgewig: 'n BMI van meer as 25 verhoog die risiko van Tipe 2 diabetes (80% van alle Tipe 2 diabete is oorgewig). Veral oorgewig oor die middelarea (maag) van die liggaam. Dis egter eerder 'n simptoom as 'n oorsaak.
  • Hipertensie: Hoë bloeddruk verhoog die risiko vir Tipe 2 diabetes
  • Abnormale Cholestrolvlakke: HDL (goeie) van minder as 1,925 mmol/l en LDL (slegte) van meer as 13.85 mmol/l verhoog kanse vir Tipe 2
  • Swangerskap Diabetes: 'n geskiedenis van diabetes tydens swangeskap asook vrouens wat geboorte skenk aan babatjies van meer as 4 kg
  • 'n Geskiedenis van Polisistiese Eierstoksindroom
  • Onaktiewe leefstyl van min oefening kan bydrae tot insulienweerstandigheid
  • Geskiedenis van vaskulêre siekte soos beroerte

Tipe 2 diabetes kan ook sekondêr wees van 'n ander siekte. Tipe 2 diabetes word veroorsaak deur 'n verskiedenhed van faktore en nie net 1 faktor nie.

Hoe gebeur dit? Verskeie maniere waarop Tipe 2 diabetes begin:

Die liggaam bou om een of ander rede ‘n weerstand op teen insulien (maw die liggaam het te veel insulien (teenoor Tipe 1 diabeet wat te min insulien het). Lees weer die gedeelte oor metabolisme. Die sel reseptors maak om een of ander rede nie oor nie en insulien word nie effektief benut nie. Bloedsuikervlakke bly hoog.

Nog 'n probleem wat navorsing bevind het is dat om een of ander rede vervang die liggaam nie betaselle wat doodgaan nie – soos normaalweg wanneer selle doodgaan, betaselle verminder en kan nie insulien effektief afskei nie. 'n Tekort in insulien ontstaan. Bloedsuikervlakke bly hoog.

Die lewer kan te veel glukose vervaardig - te veel vir die selle om opgeneem te word en daar is te min insulien om die glukose te dek. Bloedsuikervlakke bly hoog.

Dit kan ook wees dat die pankreas homself "oorwerk" - omdat die selle nie die insulien opneem nie (weerstandigheid) en bloedsuikervlakke hoog bly "verhonger" die liggaam en skei al meer insulien af. Nou begin die beta selle ophou insulien vervaardig (Die selle is nie dood of vernietig soos by Tipe 1 diabeet nie). Insulientekort tesame met weerstandigheid veroorsaak dat bloesuikervlakke hoog bly.

As gevolg van die genoemde probleme is die bloedsuikervlakke hoog - dieselfde simptoom as by Tipe 1 ontstaan. In die opsig staan die 2 tipes diabete lynreg teenoormekaar.

'n Uitgebreide bespreking oor die oorsaak van tipe 2 diabetes kan hier gevind word. (Vir die wat glo 'n skok of groot skrik veroorsaak diabetes: Ek kon nêrens bewyse kry dat dit die geval is nie. Siektes en ongelukke wat die pankreas vernietig kan wel diabetes veroorsaak.)

'n Persoon kan sy kanse om Tipe 2 diabetes omgekeer word met 'n gesonde leefstyl van gesonde dieet en meer oefening. (Dit beteken nie almal moet maraton altete word nie, maar ligte oefening soos tuinwerk, trappe klim ipv hysbak neem, werk toe stap, ens) 'n Lae Koolhidrate dieet is ook geweldig voordelig vir voorkoming en beheer van Tipe 2 diabetes.


Wanneer Tipe 2 diabeet gediagnoseer word word medikasie verskaf afhangend waar die probleem ontstaan het. Medikasie sluit pille en ander medikasie in om die weerstand vir insulien af te breek, te keer dat  die lewer te veel glukose vervaardig, of te keer dat die pankreas te veel insulien afskei. Vitamines en mineralebyvoegings is ook voordelig. Insulien word ook op 'n later stadium toegedien en meerder gevalle saam met medikasie, alhoewel die persoon dan insulien kry moet hy/sy nog steeds medikasie gebruik om weerstandigheid af te breek. (Sommige navorsing toon dat baie Tipe 2 diabete 5 tot 10 jaar na diagnose wel insulien begin gebruik) LET WEL die Tipe 2 diabeet word nie nou 'n Tipe 1 diabeet omdat hy nou insulien gebruik nie. Die diagnose verander nie.

Ontwikkeling van Tipe 2 diabetes kan 'n lang proses wees en simptome kan oor 'n tydperk ontstaan. 'n Persoon kan diabetes vir jare hê voordat dit gediagnoseer word - dit opsigself veroorsaak probleme aangesien komplikasies al begin ontwikkel voordat iets daaraan gedoen kan word. Dit is dikwels eers wanneer komplikasies onwikkel wat veroorsaak dat diabetes gediagnoseer word. Daarom is gereelde bloedsuikertoetse so belangrik.


Ongelukkig is 'n ander probleem besig om te ontwikkel en die prenjie waar slegs volwassenes as Tipe 2 diabeet gediagnoseer was is besig om vinnig te verander. Selfs kinders kry deesdae T2 diabetes as gevolg van verkeerde leefstyl van onaktiwiteit, swak dieet en oorgewig (tesame met genetiese faktor). Ons moet ons kinders aanmoedig om meer aktief te wees, minder televisie te kyk, tv en rekenaarspeletjies te speel en die belangrikste van alles koolhidrate uit te sny.  



31 January 2009

Inleiding: Diabetes en Ons

Dit was met gemengde gevoelens dat ons die pad vat Pretoria toe net nadat ons uitgevind het JH het Tipe 1 diabetes. Min het ons geweet wat nog vir ons voorlê en ons het gou uitgevind dat die pad wat ons loop maar 'n alleen pad is en dat min mense weet wat diabetes is. Daarmee saam is daar ook geweldig baie mites oor diabetes. Dit is ongelooflik om te hoor wat mense kwyt raak.

Ek het begin bekommerd raak oor Jan-Hendrik so baie water drink en op 6 jarige ouderdom skielik weer sy bed nat begin maak het – en nie net een keer per nag nie. Boonop was dit winter en die beddegoed wou net nie droog word nie. Ek het begin ongeduldig raak en geraas wanneer hy so baie water 
in die nag drink omdat ek nie wou hê hy moet weer 'n glips hê nie. Teen Woensdag die 8ste Mei 2002 het ek aan my man die moontlikheid van diabetes genoem en dit net omdat ek erensvan die simptome gehoor het.

Vrydag-oggend, 10 Mei 2002, het ek hom aangesê om niks te eet nie . Ek wou hom apteek toe gaan vat vir 'n glukose toets. Om een of ander rede besluit ek om eerder dokter toe te ry. Daar gekom, vind ons sy bloedsuiker is in die omgewing van 15 mmol en het hy ketone van 4+ (getoets met 'n uriene stokkie). Die dokter het 'n dokter in Kimberley geskakel vind ons uit dat JH ongeveer 'n week in die hospitaal sal moet bly. Daar en dan besluit ek Kimberley is uit. Die besluit was ook na aanleidning van 'n vorige slegte ervaring daar. Ek neem die inisiatief en bel 'n vorige pediater in Pretoria. Die ontvangsdame lig my in dat hulle al hulle diabete na 'n spesifieke pediatriese endokrinoloog in Pretoria verwys. Dié dokter deel my mee dat ons dadelik moet deurkom. Hulle sal vir ons wag, aangesien dit toe reeds ongeveer 10/11 uur is, 'n Vrydag en etlike ure (4-5) se ry soontoe.

Op pad koop Phanus vir ons koeldrank en uit onkunde sê ek dat hy asseblief nie iets moet koop met suiker nie. Hy moet maar vir JH 'n lemoensap koop. Ek besef natuurlik later hoe onkundig ek was en dat lemoensap propvol koolhidrate en suiker is!

In Pretoria aangekom is sy bed in die hospitaal klaar gereed en ook alles wat met die behandeling gepaard gaan. Sy suiker word getoets. Dis in die omgewing van 27mmol (natuurlik die lemoensap!). Skielik is ons in 'n wêreld van toets en spuit en 'n magdom inligting om te leer. Nooit het ek gedink ek sal dit in my hê om iemand in te spuit nie. Min het ek besef hoe baie ek nog gaan leer en dat ek nog steeds op hierdie dag - 14 jaar later - steeds navorsing doen, mense ondersteun en inligting versamel. Die eerste ongeveer ses maande het ek tot 8 ure per dag navorsing gedoen en geleer wat ek kon. Dis 'n geweldige leerkurwe.

Ek het besef indien ek in beheer wil wees van die kondisie en my kind se lewe in my hande is 24/7, moet ek leer wat ek kan. Ons bly ver van spesialiste en ek kon nie met elke probleem in die kar spring en Gauteng of Bloemfontein toe ry nie. Ek het vinnig geleer van bloedsuikers, bolusse, basale en ketone. Skielik het ek geweet al daardie voedselkennis wat ek reeds gehad het nie onnodig was nie, want dis koolhidrate tel en weet wat die invloed op JH se liggaam is. Ek is egter spyt ek het nie toe geweet dat 'n lae koolhidrate leefstyl (van minder as 30g per dag) die beste behandeling vir diabetes is nie.  Ons is aangesê dat hy kan eet wat hy wil en dat hy net hoef in te spuit vir die koolhidrate. So voer ons jare lank 'n stryd met skommelende bloedsuiker, wat vermy kon word.

Die eerste ruk was die moeilikste in my lewe. Deels, omdat ons nou met iets onbekends te doen het en andersyds, omdat dit my kind, my enigste seun is, wat daaronder ly. Nie 'n dag gaan verby wat hy nie sleg gevoel het met óf 'n hoë óf 'n lae bloedsuiker nie. Gepaardgaande hiermee is die persoonlikheidsveranderings en emosionele uitbarstings wat plaasvind as gevolg van bloedsuiker skommelinge.

Aanvanklik was JH op 'n gemengde insulien van kort en langwerkende insulien (Protophane) wat hy 2 keer per dag gekry het en 'n kortwerkende insulien (acraphane) vir etes wat later vervang is met actrapid. Daarna het hy 'n langwerkende insulien (Lantus) 1 keer per dag in die aand op dieselfde tyd gekry (basale insulien) en 'n snelwerkende insulien (Novorapid) om sy etes te dek (bolus insulien). Sedert 22 September 2007 het ons JH op die insulienpomp gesit wat elke 3 minute insulien aan die liggaam verskaf en dan word bolusse gegee om etes te dek.


Dis elke dag 'n kwessie van 'n stryd om balans. Kos, oefening, groeifases in die liggaam, seisoene, stres beïnvloed alles bloedsuiker. Maar met die krag van Bo hanteer ons elke dag soos hy kom.....